50 Dae in afwagting tot Pinkster – Blootgestel

ONS IS ALMAL BLOOTGESTEL

Ons leef in ‘n nuwe realiteit wat ons lewens onderstebo gedraai het. ‘n Realiteit wat ons blootgestel laat voel, wat ons aan ons verganklikheid en weerbaarheid herinner. Ons is skielik oorbewus waaraan ons liggame blootgestel word en hoe ‘n virus ons saamgeweefdheid as mensdom ontbloot. Hierdie is ook ‘n tyd waar my eie motiewe, emosies en karakter soos nog nooit tevore ontbloot word. ‘n Krisis is ‘n onwelkome leermeester wat wel onverwagse geskenke van insig kan bring. Binne hierdie realiteit, is dit ook ‘n tyd waar ons onthou dat Jesus die graf verlaat het en Homself aan mense begin wys het. Hoe broodnodig het ons nie nou om die opstanding te onthou nie?

PINKSTER

40 dae ná die opstanding het Jesus opgevaar, en die uitstorting van die Heilige Gees volg dan 10 dae daarna tydens die Fees van Weke (die Joodse Pinksterfees). Pinkster word dus gevier 50 dae ná Opstandingsondag. In hierdie seisoen van afwagting tot Pinkster, besin ons opnuut oor die opstandingsgebeure deur ‘n lens wat Eugene Peterson goed beskryf: “The Bible is not a script for a funeral service, but it is the record of God always bringing life where we expected to find death. Everywhere it is the story of resurrection.”  

50 DAE VAN AFWAGTING

In ons huidige geskiedkundige realiteit van inperking a.g.v. Covid-19, ontdek ons opnuut die konsep van afwagting. Ons wag, maar is nie seker waarvoor, hoe of vir hoe lank nie. Die wagtydperk het uitdagings en geskenke. Dit is ‘n tydperk van onsekerheid wat diep woelinge in ons losmaak. Ons is nie alleen in ons wag nie. Nie net word elke aardling op ‘n manier hieraan blootgestel nie, ons vermoed die dissipels kan vir ons ‘n wonderlike “skare van getuies” wees in hierdie tyd. Hulle het heelwat ervaring oor hoe om in tye van onsekerheid te leef. Kan jy jouself indink hoe dit moes wees om jou Rabbi weer te sien nadat jy Hom aan ‘n kruis sien doodgaan het? Hoe sou dit vir hulle gewees het om ná die Hemelvaart bymekaar te kom en saam te moes gewag het vir die Helper wat belowe is? Ons wil in hierdie tyd mekaar aanmoedig om heelhartig te wag, in die volle kompleksiteit daarvan. Kyk gerus na die volgende video. Daarna kan jy onder die video die materiaal aflaai:

As jy ‘n lidmaat by FGK is kan jy die materiaal hier aflaai. Ander gemeentes kan hier ‘n weergawe aflaai.

Hieronder is ook twee videos wat Lection Divina en die Examen verduidelik.

As jy die gemeente se nuusbrief wil ontvang vul die volgende in.

As jy die gemeente se nuusbrief wil ontvang vul die volgende in.

Jy is nou ingeteken!

Share This