Oesfees 2019

 

Dankmaand beteken ook voorbereiding vir die Oesfees wat hierdie jaar op 3 November plaasvind. Ons hou soos gebruiklik die erediens onder die bome op die parkeerterrein. Hierdie jaar is ons gasprediker Pierre du Plessis, die wenner van die Andrew Murray-prys vir sy wonderlike boek Jesus ruik soos goud en mirre.

 

Laai die vorm af

Ons vra elke gemeentelid of gesin om hul offer in die vorm van tuisgemaakte produkte na die Oesmark te bring om te koop aan te bied. Van ons kweek plantjies, ander lê perskes in, rooster koffie, bak brood, hekel, doen houtwerk, sing, speel fluit, of doen “scrapbooking”. Nog ander verkies dalk om vetkoek, pannekoek, worsies-op-’n-stokkie, potjiekos, wyn of gemmerbier te maak en te verkoop. Die geheim is: al die produkte is tuisgemaak! Ons sal sorg vir heerlike kuierruimtes en ’n feestelike atmosfeer. Ons deel ons gawes met mekaar en bring al die wins van ons mark as ’n dankoffer vir die gawes wat God vir ons gegee het. Dink solank wat jy of jou gesin hierdie jaar na die Oesfees kan bring.