Toegangsroetes tot Veerkragtigheid (resilience)

Besin, Covid-19

Dis warm, dis ongemaklik, dis seer. Daar’s vonke, vuur en ’n gedurige gekap: die oorverdowende geraas van staal op staal. Ons word eers in ’n vuur gloeiend warm gemaak en dan weer in yskoue water gedompel; daar’s ’n gesuis van stoom. Maar met elke warm-en-koudmaak siklus word die staal getemper en sterker gemaak.

Ons is in die smid se werkswinkel; ons word gelouter; alle roes word verwyder. Ons word gevorm, sterker gemaak, ons word veerkragtig – meer in staat om spanning en stres te weerstaan.

Die lewe sal ons louter. Ons sal dikwels gloeiend warm gemaak word en tot op ons uiterste getemper word maar, afhangend van hoe ons die louteringsproses hanteer en benader, sal dit ons in staat stel om meer stres te kan weerstaan en weer op te staan na elke onderdompeling in wanhoop en ontmoeting met tragedie.

Die vlamme van teenspoed kan ons of verteer of versterk. Ons ingesteldheid teenoor die louteringsproses is belangrik.

Mense wat versterk word deur teenspoed is veerkragtig. Hulle het die vermoë om terug te spring en weer te floreer na teenspoed of tragedie.

Ons het groot respek vir individue wat tenspyte van groot teenspoed of persoonlike tragedie oorleef het en steeds waardigheid behou het. Dink aan Viktor Frankl in die Nazi konsentrasiekampe in die tweede wêreldoorlog of voormalige president, Nelson Mandela se 27 jaar in gevangenis. 

Ons mag sulke individue as groot geeste beskou met bonatuurlike deursettingsvermoëns maar veerkragtigheidsvaardighede kan aangeleer word. Ons almal het die potensiaal om veerkragtige individue te word en te wees. Individue wat as te ware weer kan terugspring na teenspoed, verlies of harde houe.

Vyf Toegangsroetes tot Veerkragtigheid:

Savourering 

Een van die maklikste en lekkerste maniere om veerkragtigheid op te bou is om klein dinge in die allerdaagse lewe te geniet. Wanneer ons ’n genotsame ervaring uitrek sovêr as wat ons kan dan savoureer ons dit (savour in Engels) – ons tap die laaste druppel genot uit ’n ervaring, ons eet ’n positiewe belewenis tot op die been, ons verlustig onsself ten volle daarin.

Ons kan ons sintue gebruik om die kleur, tekstuur, aroma of smaak van iets ten volle te geniet. Ons kan smul aan iets wat ons drink of eet of met ons oë of ore indrink. Ons kan die ‘golden oldies’ uithaal en dit van nuuts af herontdek. Ons kan ou herinneringe herkou. Ons kan deur ou vakansie albums blaai om ‘weer te geniet’ – terug te dink aan die goeie dinge wat ons in die lewe ervaar het. Ons kan ook hierdie goeie herinneringe met andere deel: “onthou julle nog toe ons saam gaan … het?”.

Om iets te savoreer is om die golf van genot so vêr moontlik uit te ry, om ten volle te geniet en ook die lekker met andere te deel.  

Optimisme

Daar is van ons wat nie van nature optimisties is nie; sekere mense word gebore met hoër optimisme as andere. Maar soos veerkragtigheid, is optimisme ook ’n kognitiewe vaardigheid wat ons kan aanleer. Blinde optimisme is nie die antwoord nie – ons kan nie in ontkenning lewe oor die realiteit van teenspoed en tragedie nie. Gesonde optimise is iets waarna ons kan streef om meer veerkragtig te word. Gesonde optimisme is ’n vorm van optimisme wat neig om nie alles te wil inkleur met die negatiewe nie. Gesonde optimisme isoleer die positiewe en beskerm dit van veralgemening bv. ALLES is sleg in hierdie situasie. Gesonde optimisme soek die een ding wat nog goed is, ten spyte van alles wat sleg is, en fokus daarop met waardering. Gesonde optimisme is ook die oortuiging dat nie alles wat goed is in die lewe deur die negatiewe ondermyn kan word nie; dit glo dat nie alles geruineer sal word nie, dat daar steeds goeie dinge blywend sal wees na die storm. Gesonde optimisme is ook die oortuiging dat daar steeds goeie dinge vir ons voorlê, dat teenspoed nie permanent is nie en dat ons lot nie verseël is in tragedie nie.

Gesonde optimisme glo dat daar nogsteeds goeie te vinde is ten midde van die slegte en dat nie ALLES sleg is nie en verewig sleg sal bly nie.

Dankbaarheid

Dankbaarheid en optimisme oorvleuel maar is tog verskillend. Dankbaarheid is nie optimisme nie maar soos gesonde optimisme soek dankbaarheid na die een ding wat goed is en gee aandag daaraan. In Engels word daar gepraat van ‘benefit finding’ of ‘counting blessings’. Wanneer ons dankbaarheid beoefen sif ons met intensionaliteit deur die puinhope van tragedie om die een laaste goeie ding te vind waarvoor ons dankbaar is en dit brandstof te gee sodat dit helder kan brand in die donker nag van teenspoed. ’n Dankbaarheidsorientasie is geneig om tragedie stadig maar seker te verander in ’n leer-en-groei ervaring. Wat dankbaarheid ook meer krag verleen is om ervaringe of seëninge wat jy tel met andere te deel. Om ’n dankbaarheidsorientasie te kultiveer is een van die kragtigste dinge wat ons kan doen om ons eie veerkragtigheidsvermoëns te versterk. Wanneer ons seën ten midde van ‘vloek’ kan vind gee dit ons ’n hupstoot en dit help ons om weer te kan terugspring om die lewe vierkantig in die oë te kyk.

Dankbaarheid soek en vestig aandig op seëninge ten midde van die pyn van die lewe.

Hoop

“…dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort…” (Romeine 5:5). Hoop is gegrond in liefde. Wanneer ons opnuut bewus word van ons eie geliefdheid dan verskuif ons hoop – ons verwag dat God goeie dinge vir ons beskore het omdat Hy goed is. Daar is ook ’n konneksie tussen hoop en goeie geestesgesondheid. Navorsers het gevind dat hoop sentraal is wanneer dit by aanpassing kom asook veerkragtigheid. Die navorsers Gallagher en Lopez het gevind dat hoop, optimisme en positiewe verwagtinge oor die toekoms ’n gunstige effek op geestesgesondheid het. Mense met hoop het laer vlakke van depressie. 

Hoop is nie ‘wishful thinking’ nie. Hoop het baie te doen met ons oortuiging dat ons teenspoed kan hanteer deur doelgerigte aksie te neem. Hopeloosheid aan die ander kant is om passief te wees en geen moeite te maak om dinge te probeer verander nie (al kan mens slegs jou ingesteldheid teenoor die onveranderlike verander). Dieselfde navorsers het gevind dat mense wat hoopvol is ook beter vaar met die hantering van onvoorspelbare stressors. Soos vroeër genoem: hoop is nie ‘wishful thinking’ nie maar hoop manifesteer deur doelgerigte aksie te neem bv. om probleemoplossingsmetodes te probeer asook om doelgerig te wees om sosiale ondersteuning te verkry (direk daarvoor te vra). 

Hoop is nie ‘wishful thinking’ nie, dis doelgerigte aksie neem en te glo, omdat ons geliefd is, dat God goeie dinge vir ons wil en dat ons toekoms ook nog goeie dinge vir ons inhou.

Betekenis 

Viktor Frankl het in sy ervaring in die brutale Nazi konsentrasiekampe gesien hoe dat diegene wat steeds betekenis kon vind in die aangesig van ernstige leiding ’n groter kans op oorlewing gewys het. Diegene wat hulle laaste stukkie brood vir andere gegee het, het betekenis in hulle leiding gevind en was so ook deur hulle onbaatsugtigheid geestelik versterk. Wanneer ons betekenis kan vind ten midde van lyding en teenspoed vaar ons beter. 

Om betekenis te vind gebeur nie outomaties nie. Ons moet diep self-ondersoek doen en uitvind waarvoor of vir wie ons lewe en wat en wie ons die meeste sal mis wanneer ons nie meer hier is nie. Frankl het met baie pasiënte gewerk wat selfmoordgedagtes gehad het. In sy terapeutiese sessies sou hy dikwels (en moet dit asseblief nooit probeer nie!) vir mense met selfmoordneigings vra: “Waarom maak jy nie ’n einde aan jou lewe nie?”. Hierdie vraag was dikwels ’n keerpunt vir Frankl se pasiënte omdat hulle op daardie oomblik besef het vir wie en vir wat hulle nog wil en móét leef. 

Om gedagte te gee aan ons eie mortaliteit kan ’n groot impetus wees om met meer betekenis te lewe en meer aktief na betekenis in ons lewens te soek. Om te onthou dat ons lewens op aarde nie oneindigend is nie en dat ons lewens ’n groot gawe is kan ons orientasie en benadering tot die lewe verander. Dis juis ons sterflikheid wat ons lewens hier meer beteknisvol maak; ons het ’n bepekte tyd om hier vir andere te wees en om ons doel op aarde uit te leef.

Hierdie vyf toegangsroetes: savorering, optimisme, dankbaarheid, hoop en betekenis kan ons help om meer veerkragtig te word en help om terug te spring na harde houe, teenspoed en lyding in hierdie uitdagende tye waarin ons leef. 

Geniet wat genotvol is ten volle, glo dat die slegte nie al die goeie ondermyn nie, soek stof tot dankbaarheid in die puine van die lewe, glo met hoop dat God goeie dinge vir jou wil en vind uit waarvoor en vir wie jy wil lewe en jy sal sodoende met groter veerkragtigheid die storms van die lewe kan trotseer. 

Gemeenteraad kenmerke

Gemeenteraad kenmerke

Wat is die eienskappe van 'n Gemeenteraadslid? Wat is die kenmerke van iemand wat op die Gemeenteraad dien? Hier is ‘n kombinasie van Bybeltekste en formuliere van die NG Kerk wat kan help om iemand te nomineer en ook gebruik kan word deur die huidige lede om hulself...

read more
(Hoe) Kan ek verander?

(Hoe) Kan ek verander?

Verandering is 'n proses In 'n bekende Bob Newhart video kom vra 'n persoon hulp oor 'n vrees wat sy het. Hier is die snaakse video daaroor. Stop it! Hoeveel keer het jy al vir jouself gesê, "Ek gaan net...

read more
Beperkte inperking

Beperkte inperking

Beperkte Inperking Gemeentelede sal bly wees om te verneem dat FGK ’n Covid-19 Taakspan gestig het wat sake op ons perseel met oordeel bestuur. Sommige van ons huurders en gevolglik ons personeel is weer op die perseel. Gemeentelede moet asseblief nie kuier of kom...

read more
Trauma en hoe om daar vir mekaar te wees

Trauma en hoe om daar vir mekaar te wees

In hierdie tyd gesels die Sielkundige Lollie Smith oor ons ervarings in Covid-19. Sy bespreek dat ons tans almal deur trauma gaan en dat dit ons gedrag wat sy as goggas beskryf na vore laat kom. Sy help ons ook om te dink hoe ons vir mekaar goed kan wees in hierdie...

read more
Jesus se gebed : Johannes 17

Jesus se gebed : Johannes 17

In Johannes 17 lees ons die langste gebed van Jesus. In die erediens het Adri-Marie van Heerden die beeld gebruik dat ons uitgenooi word om hierdie gebed af te luister. In hierdie gebed bid Jesus vir eenheid en ook vir ons ken van God. Dit is maklik om iets te breek,...

read more
Gehoorsaamheid as ‘n gewoonte

Gehoorsaamheid as ‘n gewoonte

Doen dit vir my! Hoeveel ouers het nie al hierdie woorde vir hulle kinders gesê omdat hulle nie een of ander taak wil verrig nie. Kind: "Maar ek wil nie skottelgoed was nie!" Ouer: "Jy doen dit vir my" Hierdie dinamiek probeer 'n verband bring tussen die opdrag en die...

read more
15 Mei 2020 Nuusbrief

15 Mei 2020 Nuusbrief

Geliefdes Verlede Sondag het ons gefokus op Jesus se woorde “Julle moet nie ontsteld wees nie”. Ons is ook steeds besig met ons Pinkstermateriaal. Eerskomende Sondag se erediens fokus op Johannes 14:15-21. Die dienste sal weerregstreeks op YouTube en Facebook...

read more
Waardes vir kinders

Waardes vir kinders

Waardes en ons kinders Die inperkingstyd gee vir ouers die geleentheid om sekere gesprekke met ons kinders te hê waarvoor daar soms nie genoeg tyd is nie. Ons het al voorheen na emosies gekyk. Watter gesprekke kan ons nog met ons kinders voer wat waardevol is? Dalk...

read more
Share This